Monthly Archives: June 2014

Ken jou vonkelwyn 1

image

Vonkelwyn is iets wat meeste gewoonlik slegs op spesiale okasies drink. Alhoewel dit is meer veelsydig en pas by meer kos soorte as enige ander tipe wyn. Dit gesê, daar is meer aan vonkelwyn as wat gesien kan word met die blote oog.

Nie alle vonkelwyn wyn is “Champagne” nie. Sjampanje is n streek in Frankryk en slegs wyne vanaf hierdie streek mag Sjampanje genoem word. Sjampanje word gemaak deur n basis wyn vanaf Pinot Noir, Pinot Munier of Chardonnay te maak. Hierna word dit gebottel en ondergaan n tweede fermentasie in die bottel,  as gevolg van gis en suiker wat by gevoeg word. Dit is hierdie tweede fermentasie wat aan sjampanje sy borrels verleen.

Hier in Suid Afrika maak ons vonkelwyn op die selfde metode. Dit word Method Cap Classique genoem of MCC vir kort. Kyk ook gerus uit vir Method Traditionale op die bottel. Daar is ook ander manierie om vonkelwyn wyn te maak.

Meer algemeen hier is wat ons die fiets pomp metode gedoop het. Hier word klaar gemaakte wyn ingespuit met koolstofdioksied gas wat dan die vonkels verleen. Daar is meer aan vonkelwyn en wat hier bespreek word is n vinnige oorsig.

image

Ons gaan verder uitbrei op die onderwerp in toekomstige artikels. Te veel hoor ons mense wat praat van sjampanje, wanneer dit duidelik nie die ware jakob is nie. Is daar n verskil in die smaak van die bogenoemde ? Ons antwoord is defnitief JA ! Sjampanje en MCC le tot en met vyf jaar op die gis. Dit verleen daai tipiese brioche karakter aan die wyn. Daarmee saam gepaard gaan sekondere bottel veroudering karakter eienskappe soos heuning, appelkoos en neut op die neus.

Fiets pomp metode vonkelwyn skort die eienskappe. Daar is niks fout met hierdie wyne nie. En daar is goeie voorbeelde hiervan beskikbaar op die rakke. En soms net die ding vir n vonkelwyn ontbyt sonder om die bank te breek. Dus is daar meer rede om vonkelwyn te drink.Gaan en verken die wye reeks wyne beskikbaar en laat ons weet wat jy drink.

Waterkloof se eerste Cabernet Franc pure Franse finesse

Waterkloof, die eko-vriendelike wynlandjuweel wat troon teen die hange van die Schapenberg buite Somerset-Wes, het sopas sy eerste Cabernet Franc 2012 tot sy terroir-gedrewe Circumstance reeks toegevoeg – ‘n klassieke weergawe van die indrukwekkende elegansie wat hierdie variëteit kan behaal.

Waterkloof winemaker Nadia Barnard LR 1

“Hierdie sysagte nuweling vertoon ‘n soortgelyke styl as die Cabernet Franc wat afkomstig is vanaf die omgewing van Bordeaux. Dit is pure elegansie, vermeng met intensiteit en dit is ‘n uitstekende koswyn,” gesels Waterkloof eienaar Paul Boutinot. Hy is ‘n Engelsman van Franse herkoms en het die plaas in 2003 gekoop vir sy merkwaardige ligging, wat oor ‘n unieke simfonie van omstandigehede soos uiteenlopende grondsamestellings en gunstige, mikro-klimaat beskik.

Waterkloof winemaker Nadia Barnard LR 2

Die plaas se idilliese ligging is ook juis die rede hoekom Cabernet Franc nou in eie reg deel uitmaak van Waterkloof se gesogte Circumstance reeks, en nie net op die plaas is om dit – soos vir die aanvanklike doel – as ‘n betekenisvolle komponent in hul rooiwynversnitte te gebruik nie.

Die suidwestelike hange van die Schapenberg, ‘n skrale 4 kilometers vanaf die Valsbaaise kus, is ideaal vir hierdie variëteit siende dit floreer in effens koeler liggings met stadiger en langer rypwordingsperiodes, wat aan die druiwe intense geure, finesse en kompleksiteit verleen.

Circumstance Cab Franc 2012 pack shot LR

“By Waterkloof was ons bio-dinamiese wingerde, wat organies verbou word sonder die gebruik van konvensionele plaagdoders, bestrydingsmiddels en kunsmis en bewerk word deur on Percheron perde, nog altyd ons hoof fokus en sal dit ook altyd so wees. Dit is om te verseker dat ons die beste van die natuur op die natuurlikse manier moontlik ontgin om ons eerlike, gehalte wyne te produseer. Ons poog om die terroir in elke bottel perfek vas te vang en elke variëteit te plant in die area waar dit die beste gehalte vrugte sal oplewer,” verduidelik Waterkloof wynmaker Nadia Barnard.

Circumstance Cab Franc 2012 moody 1 LR

“Ons aanvanklike idee was om hierdie Cabernet Franc wingerdblok slegs te gebruik as ‘n versnitkomponent, maar toe ons die wyn eers proe het ons dadelik besef dat dit oor al die verfynde kwaliteite beskik om as ‘n enkelvariëteit wyn by die Waterkloof familie aan te sluit. Ons sagte, ligte getekstuurde Cabernet Franc weerspieël al die gehalte eienskappe van die variëteit opdat dit afkomstig is van ryk en gesonde grond wat propvol natuurlike lewe is,” voeg sy by.

By Waterkloof word al die rooiwyndruiwe in oop, houtvate gegis en in hul poging om eiesoortige wyne te skep maak hul slegs staat op ‘n tydsame, natuurlike gistingsproses in al hulle wyne en maak hulle ook gebruik van gravitasie in die kelder, om die oortollige oorpomp en hantering van die wyn te vermy.

Die Cabernet Franc druiwe het solank as 35 dae op die doppe vertoef om ‘n verdere sagmakingsproses teweeg te bring en die wyn is vir 20 maande in Franse eikehout verouder.

Waterkloof winemaker Nadia Barnard
Waterkloof winemaker Nadia Barnard

Vir Nadia laat dink die wyn haar aan die Franse aktrise Audrey Tautou: stylvol, klassiek en prikkelend. Die Circumstance Cabernet Franc 2012 is goed gebalanseerd en doeksag en verlei met geure van braambessie, swartpeper en tiemie terwyl die mondgevoel lank en elegant tot ‘n indrukwekkende nasmaak talm.

Hierdie nuweling is ‘n bobaas kosmetgesel – Vleisliefhebbers kan dit geniet saam met stadig gebraaide lamskenkels, gekrui met roosmaryn, terwyl vegetariërs dit kan paar met hulle gunsteling groente Moussaka.

Die Circumstance Cabernet Franc 2012 kos R155 per bottel, waarvan daar slegs 3 300 geproduseer is en wat jy slegs by die Waterkloof proelokaal kan aanskaf.

Vir meer inligting en wynbestellings skakel Waterkloof by Tel: 021 858 1292 of besoek www.waterkloofwines.co.za.

Delheim se Spatzendreck sprei nou sy vlerke as ‘n eksklusiewe versamelwyn

Legendariese Laatoes pronk met nuwe vere as ‘n eksklusiewe Natuurlike Soetwyn

 

Na 53 jaar se vlerke sprei as Delheim se parmantige Laatoes mossie, pronk die legendariese Spatzendreck nou met hernude vere van verfynde persepsie en meer diepte as ‘n eksklusiewe Natuurlike Soetwyn met die bekendstelling van sy jongste 2013 oesjaar.

Delheim - Spatzendreck 2013 LR

Meeste van sy voorgangers, insluitende die 2012 oesjaar, was Laatoes wyne, gemaak van 100% Chenin blanc druiwe, maar die 2013 oesjaar fluit nou ‘n goue deuntjie as ‘n versnit van Muscat de Frontignan, Weiser Riesling en Chenin blanc, waarvan daar slegs 2400 bottels geproduseer is.

 

Die edele Delheim Spatzendreck Natuurlike Soetwyn 2013, wat sy verskyning in ‘n spoggerige omhulsel maak, vier ook die terugkeer van die oorspronlike voorkoms van die wyn, wat ‘n ondeunde mossie wat sy nommer twee in ‘n wynvat maak, op die etiket uitbeeld. Terug in die ou dae was hierdie tjorts-mossie, slim bemarking en het dit klomp aanhangers gewerf en vandag herdenk Delheim met dié toeka-se-voorkoms, die eerste ‘vlug’ wat hierdie gewilde wyn by dié erkende Stellenbosch wynplaas in 1961 geneem het.

 

“Ons het ons Spatzendreck ‘n nuwe en meer gesofistikeerde lewe gegee, deur dit in kleiner volumes as a Natuurlike Soetwyn van drie verskillende variëteite te produseer. Die grootste verskil tussen die 2013 oesjaar en sy voorgangers is die ressuiker wat ons van 75 g/l tot bykans 130 g/l verhoog het. Die rede daarvoor is omdat ons ‘n meer ernstige wyn, wat oor indrukwekkende verouderingspotensiaal beskik, wou produseer,” verduidelik wynmaker Reg Holder, ‘n terroir-entoesias wat in 2011 by die landgoed aangesluit het.

Delheim Spatzendreck 2013 tube & bottle LR

Delheim se patriarg, Michael Hans ‘Spatz’ Sperling – Sperling is Duits vir mossie en sy noemnaam Spatz is ‘n verkleiningsvorm van dit – was een van die drie stigterslede van die Stellenbosch Wynroetes in 1971 en tot vandag toe beskou hy sy geliefde Spatzendreck as een van sy beste pionierspogings van sy roemryke wynmaakloopbaan.

 

Die storie agter die wyn se naam en etiket dateer terug in die 1950s, toe Spatz vanuit Duitsland in Suid-Afrika gearriveer het om wyn te begin maak by hierdie historiese familieplaas teen die hange van die Simonsberg. Nie al sy gaste was wel beïndruk met sy eerste pogings nie, wat juis ook die Spatzendreck ingesluit het.

 

Toe ‘n proesel van sy eerste Laatoes op ‘n jolige Sondagmiddag van ‘n ene tenk nommer 13 getrek is, het die wyn ‘n meer bruiner kleur as die van die beslissende ‘pienk’ Riesling gehad, en volgens een van sy Duitse vriende wat teenwoordig was, het dit ook glo soos ‘dreck’ geproe – Duits vir gemors.

 

Maar die visionêre Spatz is ‘n man wat hom nie sommer laat onder kry nie en hy het eenvoudig net sy pogings verdubbel – gedetermineerd dat sy vriendin eendag haar woorde letterlik sal drink – en met ‘n verbeterde smaak, en aanhangers van reg oor die wereld wat daarvan getuig, het die Spatzendreck oor die jare een van die gewildste wyne in Suid-Afrika geword. Selfs nog meer so, toe dit deur die toonaangewende Britse wyntydskrif, Decanter, as die ‘lelikste etiket in die wêreld’ in 1971 gekroon is!

 

Die drie druifvariëteite wat vir die Spatzendreck Natuurlike Soetwyn 2013 gebruik is, is afkomstig vanaf Delheim se bekroonde wingerde in die Simonsberg-wyk van Stellenbosch. Die verskillende wyne waaruit die Spatzendreck bestaan is elk onderskeidelik geproduseer en vir nege maande in ou eikehoutvate verouder, voordat dit versny is.

 

Dié soet, dog uiters vars en komplekse wyn is bekoorlik met sy goue, strooikleurige gloed, met ryk lae van lemoenbloeisel en sitrus wat die neus groet en die talmende, ryp somersvrugte in die mond aanvul. Die eikehoutveroudering verleen speserye en sagte dog ferm tanniene aan die wyn en dra by toe hierdie kelder pronkperd se uitstekende verouderingspotensiaal. Alhoewel dit gereed is om dadelik geniet te word, sal jy dit ook vir soveel as tien jaar kan wegbêre. Dit is voorwaar ‘n besonderse versamelwyn vanuit die Delheim stal.

 

Delheim Spatzendreck Natuurlike Soetwyn 2013 analise:

 

Ressuiker: 129.8 g/l

Alkohol: 12.5%

pH: 3.57

Totale suurheid: 7.77 g/l

 

Die Delheim Spatzendreck Natuurlike Soetwyn 2013 is slegs direk vanaf die kelder beskikbaar teen R165 per bottel. Vir meer inligting en wynbestellings skakel die landgoed by Tel: 021 888 4600 of stuur ‘n epos na info@delheim.com. Besoek ook die webtuiste www.delheim.com en volg Delheim op Twitter @Delheim.