Wellington Fork & Cork wynfees

image

Wellington en die Mutual & Federal Agri Wellington Wynroete bied 12 September 2015 hul 2de jaarlikse Fork & Cork wynfees te Kleinevalleij Landgoed aan.  Dié fees beloof om ‘n ieder en elk met die beste plaaslike kos, wyn, kuns en vermaak vanuit die Wamakersvallei te trakteer.

 

Feesgangers kan uitsien na ‘n varsprodukte- en ‘n leefstylmark met ‘n splinternuwe wynteater wat vyf verskillende produksies aanbied.  Wonderlike pryse kan ook tydens elke sessie gewen word.  Die fees is kindervriendelik en ouers kan die luilekker Bolandse gasvryheid geniet terwyl die kleinspan onder toesig buite baljaar.

 

Musiek

Musiekliefhebbers kan vanaf 12h00 regskuif vir die swingrock-klanke van die agstuk Swingsetters (http://swingsetters.co.za/) waarna die Bootleggers (http://www.thebootleggers.co.za/), ‘n sesstuk blues en jazz orkes omstreeks 15h00 sal oorneem.

 

Wynteater

Die vyf  wynteaters by Festa Restaurant op Kleinevalleij Landgoed sluit in:

 

The People’s Chenin– Hier word dié kultivar onder leiding van bekroonde wynmakers bespreek. Ses wyne word blind geproe en elke persoon kies sy drie gunstelinge, waarna die People’s Chenin aangekondig sal word.  Een gelukkige persoon sal ook ‘n kis van die omgewing se Chenin Blanc wyne wen.

Rooi Reuse– Wynmakers vergelyk en bespreek die karakter van rooiwyne soos Rhône, Bordeaux en Cape Blends.  Dit gaan gepaard met ‘n wynproe.  ‘n Gelukkige deelnemer staan ook die kans om ‘n kis van die omgewing se rooiwyne huis toe te neem.

Sedgwicks en Andy Watts – Hierdie sessie behels ‘n Whisky proe en aanbieding deur die bekende distilleerder Andy Watts wat onlangs weer bekroon is vir sy Three Ships Whisky en Bain’s Cape Mountain Whisky.  Een gelukkige wenner stap weg met twee bottels Bain’s Cape Mountain Whisky. 

Pinotage en Persoonlikhede Dié teaters stel bekend persoonlikhede uit die vallei wat ‘gepaar’ word met  Pinotage en toeskouers onthaal op  Wellington staaltjies.  Een gelukkige wenner ontvang ‘n gemengde kis Pinotage uit die omgewing.

Wellington Quest for the Best Top 10 – Die Grand Finale vir die dag se wynteateraanbiedinge is die proe en bespreking van vanjaar se Wellington Quest for the Best top 10 wyne gelei deur hulle onderskeie wynmakers. Quest for the Best is uniek deur Wellington ontwikkel met die doel om juis die besonderse kwaliteit en diversiteit van Wyne van Oorsprong Wellington te vier en aan die publiek ten toon te stel.  ‘n Gelukkige wenner stap weg met al 10 dié top wyne.

 

Pryse

Gedurende die dag se feesvieringe gaan verskeie gelukkige trekkings plaasvind met fantastiese pryse wat onder meer insluit geskenkpakkies vanaf die leefstylmark, wyn, etes, verblyf, Zipline geskenkbewyse, kaartjies na die Tuin van Digtersfees en nog baie meer.

 

Kom vier saam met ons Wellington en sy mense en vind uit waarom ons bekroon  is as die Wes-Kaap se Kwêla Dorp van die Jaar 2015.  Kwêla Dorp van die Jaar insetsel:http://kyknet.dstv.com/2015/05/26/kwela-wellington-dorp-van-die-jaar-finalis/

 

Kaartjies is beskikbaar by Computicket teen R150 per persoon. Die fooi sluit in ‘n glas, gratis proeë asook ingang tot die vyf wynteaters.  Kinders onder 17 kry gratis toegang.  Die feestelikheid begin om 10h00 en eindig 18h00 waarna feesgangers hul vieringe by Festa Restaurant kan voortsit.

 

Vir meer inligting en volledige program kontak tel 021 864 1378, epos info@wellington.co.za of besoekwww.wellington.co.za/forkcork