Tag Archives: nuus

Wellington Fork & Cork wynfees

image

Wellington en die Mutual & Federal Agri Wellington Wynroete bied 12 September 2015 hul 2de jaarlikse Fork & Cork wynfees te Kleinevalleij Landgoed aan.  Dié fees beloof om ‘n ieder en elk met die beste plaaslike kos, wyn, kuns en vermaak vanuit die Wamakersvallei te trakteer.

 

Feesgangers kan uitsien na ‘n varsprodukte- en ‘n leefstylmark met ‘n splinternuwe wynteater wat vyf verskillende produksies aanbied.  Wonderlike pryse kan ook tydens elke sessie gewen word.  Die fees is kindervriendelik en ouers kan die luilekker Bolandse gasvryheid geniet terwyl die kleinspan onder toesig buite baljaar.

 

Musiek

Musiekliefhebbers kan vanaf 12h00 regskuif vir die swingrock-klanke van die agstuk Swingsetters (http://swingsetters.co.za/) waarna die Bootleggers (http://www.thebootleggers.co.za/), ‘n sesstuk blues en jazz orkes omstreeks 15h00 sal oorneem.

 

Wynteater

Die vyf  wynteaters by Festa Restaurant op Kleinevalleij Landgoed sluit in:

 

The People’s Chenin– Hier word dié kultivar onder leiding van bekroonde wynmakers bespreek. Ses wyne word blind geproe en elke persoon kies sy drie gunstelinge, waarna die People’s Chenin aangekondig sal word.  Een gelukkige persoon sal ook ‘n kis van die omgewing se Chenin Blanc wyne wen.

Rooi Reuse– Wynmakers vergelyk en bespreek die karakter van rooiwyne soos Rhône, Bordeaux en Cape Blends.  Dit gaan gepaard met ‘n wynproe.  ‘n Gelukkige deelnemer staan ook die kans om ‘n kis van die omgewing se rooiwyne huis toe te neem.

Sedgwicks en Andy Watts – Hierdie sessie behels ‘n Whisky proe en aanbieding deur die bekende distilleerder Andy Watts wat onlangs weer bekroon is vir sy Three Ships Whisky en Bain’s Cape Mountain Whisky.  Een gelukkige wenner stap weg met twee bottels Bain’s Cape Mountain Whisky. 

Pinotage en Persoonlikhede Dié teaters stel bekend persoonlikhede uit die vallei wat ‘gepaar’ word met  Pinotage en toeskouers onthaal op  Wellington staaltjies.  Een gelukkige wenner ontvang ‘n gemengde kis Pinotage uit die omgewing.

Wellington Quest for the Best Top 10 – Die Grand Finale vir die dag se wynteateraanbiedinge is die proe en bespreking van vanjaar se Wellington Quest for the Best top 10 wyne gelei deur hulle onderskeie wynmakers. Quest for the Best is uniek deur Wellington ontwikkel met die doel om juis die besonderse kwaliteit en diversiteit van Wyne van Oorsprong Wellington te vier en aan die publiek ten toon te stel.  ‘n Gelukkige wenner stap weg met al 10 dié top wyne.

 

Pryse

Gedurende die dag se feesvieringe gaan verskeie gelukkige trekkings plaasvind met fantastiese pryse wat onder meer insluit geskenkpakkies vanaf die leefstylmark, wyn, etes, verblyf, Zipline geskenkbewyse, kaartjies na die Tuin van Digtersfees en nog baie meer.

 

Kom vier saam met ons Wellington en sy mense en vind uit waarom ons bekroon  is as die Wes-Kaap se Kwêla Dorp van die Jaar 2015.  Kwêla Dorp van die Jaar insetsel:http://kyknet.dstv.com/2015/05/26/kwela-wellington-dorp-van-die-jaar-finalis/

 

Kaartjies is beskikbaar by Computicket teen R150 per persoon. Die fooi sluit in ‘n glas, gratis proeë asook ingang tot die vyf wynteaters.  Kinders onder 17 kry gratis toegang.  Die feestelikheid begin om 10h00 en eindig 18h00 waarna feesgangers hul vieringe by Festa Restaurant kan voortsit.

 

Vir meer inligting en volledige program kontak tel 021 864 1378, epos info@wellington.co.za of besoekwww.wellington.co.za/forkcork

Botriver gooi flikkers met Barrels & Beards 2014

image

Na-oes wyne deel die kollig met wilde, woeste baarde

Saterdag, 5 April 2014

Vir die eiesoortige wynmakers van Botrivier in die Overberg beteken die aanbreek van hulle jaarlikse oesseisoen ‘n baardskeer-verbod gedurende hierdie uitmergelende tydperk. En vanjaar sal die welige obrengs van na-oes baarde en snorre weer spottend onthul word tydens hul gewilde Barrels & Beardsoesfees op Saterdag, 5 April 2014.

 

image

Oor die afgelope drie jaar het die Botriver Barrels & Beards homself gevestig as een van die mees pretlustige wynmakieties in die land, waartydens entoesiaste kan deel in die jongste wyn-pronkperde en vate vol vermaak in die geselskap van die bebaarde wingerd- en kelderdiensknegte van dié vooruitstrewende wynstreek.

 

Met die tema ‘The Good Old Way’, beloof die 2014 makietie vatproeë van die jongste koelklimaat wyne wat spruit vanuit die area asook ‘n verspotte ‘baard-parade’ – tot groot vermaak van geesdriftiges wat dan ook saam met erkende beoordelaars vir die beste baard in Botrivier sal stem.

 

image

Gaste sal ook weglê aan ‘n ‘van plaas tot tafel’ driegang aandete van unieke smake en produkte eie aan die kontrei, terwyl voetstamp musiekvermaak deur ‘n plaaslike marimba groep en die immer-groen boereorkes, Die Stoepsitters, ook op die kaarte is.

 

image

“Siende ons so half weggesteek lê tussen die Hemel en Aarde Vallei en Elgin, moet ons so bietjie anders as almal wees om die aandag te trek en so het die Barrels & Beards dus ontstaan. As dit kom by wyn moet ‘n mens nie te ernstig en wysneus wees nie en wat is dan nou lekkerder as om die einde van die oes met ‘n jolige opskop te vier!” gesels Penny Verburg van Luddite en voorsitter van die Botrivier Wynroete.

 

Die unieke Botrivier Wynroete, geleë net so oor ‘n uur se ry vanaf Kaapstad, is die tuiste van ‘n uiteenlopende boeket van wynkelders en produsente wat wissel van die historiese, meer tradisionele staatmakers tot ultra-moderne, glanskelders wat almal toegewyd is tot individualistiese, gehalte-gedrewe wyne.

 

Die kelders wat in die 2014 Barrels & Beards gaan deelneem sluit in Barton, Beaumont Wyne, Eerstehoop, Feiteiras, Gabriëlskloof, Genevieve MCC, Goedvertrouw, Luddite, Maremanna, Rivendell en Wildekrans. Hulle kelderskatte sal ook die aand te koop aangebied word.

image

 Die geleentheid se borge sluit in Wesgro en Amorim Cork, Suid-Afrika se grootste, natuurlike kurkverskaffer, en die beste baard van die aand sal beloon word met of ‘n kajak, gholfsak of branderplank gemaak van kurk.

“Botrivier pronk as een van die mees gewildste wynlandbestemmings, te danke aan ons eie, unieke, meer rustiger manier van dinge doen. Ons nooi ieder en almal uit om te kom deel in ons ‘wolhaarstorie van ‘n ander kleur’ terwyl ons vir oulaas met ons woeste baarde en harige skeppings spog,” voeg Sebastian by.

Barrels & Beards 2014 vind plaas by Die Ou Skuur by Anysbos-plaas (op die Swartrivier pad, vanaf die N2 net duskant Botrivier) en begin om 5nm. Daar sal ook ‘n pendelbussie (vanaf die Botrivier Hotel) tydens die aand beskikbaar wees ter ondersteuning vanverantwoordelike alkoholgebruik.
 

Sitplek is beperk tot 200 gaste en as verlede jaar se Barrels & Beards, wat soos soetkoek uitverkoop het, enigsins ‘n indikasie is, moet jy sommer nou jou kaartjies bespreek. Die kaartjies kos R270 per persoon wat ‘n gratis vatproe van die jongste Botrivier wyne; ‘n soewenier wynglas; die aandete; musiekvermaak, asook hartlike plattelandse gasvryheid insluit.

Vir meer inligting oor die BotrivierBarrels & Beards oesfees of om jou kaartjies te bespreek skakel Nicolene Heyns bynicolene@botriverwines.co.za of skakel 082 852 6547. Of bly sommer vir die hele naweek en gaan loer opwww.botriverwines.com vir akkommodasie.

__________

Stellenbosch Wynroetes spog met internasionale Wyntoerisme Toekenning

Stellenbosch wine festival pic LR

Suid-Afrika se vernaamste wynroete, die Stellenbosch American Express ® Wynroetes, het sy staal as ‘n vooruitstrewende wyntoerisme-organisasie sopas weer gewys, deur die titel as Beste Promosie Liggaam (Best Promotional Body) by die 2014 Wyntoerisme Toekennings van die toonaangewende Drinks International tydskrif in te palm.

 

Hierdie jaarlikse kompetisie wat tans in sy vierde jaar is, dien as ‘n industrie maatstaf vir uitmuntendheid in wyntoerisme en die Stellenbosch Wynroetes is vanjaar erken vir sy omvangryke

implementering van innoverende toerisme-inisiatiewe om die area en sy vele gebeurtenisse en aktiwiteite daadwerklik te promoveer.

 

“Die ontstaan van die Stellenbosch Wynroetes in 1971 is gesien as die begin van wyntoerisme in Suid-Afrika. Dit het dinge vir ons wynstreek moontlik gemaak om die toe-nog-onbekende onderwerp van wyntoerisme op ‘n heel ander vlak te benader as wat daar nog ooit in ons land se wynindustrie te siene was. Vandag geniet ons die glorie as die pionier van Suid-Afrikaanse wyntoerisme en die land se mees vooraanstaande wynroete in terme van gehalte wyne, toerisme-attraksies, reputasie, innovasie en gemeenskapsbetrokkenheid,” gesels Annareth Bolton, uitvoerende hoofbeampte van die Stellenbosch Wynroetes.

 

Hierdie spogtoekenning volg kort op die hakke van die geboorte van die wynroete se dinamiese 2014

wyntoerisme-bemarkingsveldtog, Stellenbosch Ervaring, wat in samewerking met Stellenbosch 360 (of te wel Stellenbosch Toerisme) op die been gebring is om die area se toerisme-voetspoor plaaslik en internasionaal te verskerp en uit te brei.

 

Die Stellenbosch Ervaring poog om die Stellenbosch Wynlande as Afrika se wyntoerisme hoofstad te posisioneer en erkenning en bewustheid daarvoor wêreldwyd te geniet. Die wyn- en toerismeindustrie word uitgenooi om by die veldtog aan te sluit as vennote om die streek en sy weelde op eie bodem en oorsee te bemark.

 

“Ons poog vir maksimum internasionale blootstelling en bewusmaking en deelnemende bemarkingsvennote sal by die ITB, Berlyn in Maart verteenwoordig word waartydens die Stellenbosch Ervaring aan die wêreld se vernaamste reisagente en media onthul sal word, wat gevolg sal word deur plaaslike blootstelling by die Toerisme Indaba in Durban in Mei,” verduidelik Bolton.

 

As deel van die veldtog het die wynroete ook onlangs sy nuwe interaktiewe blog, genaamd StellenBlog, die lig laat sien. Die blog deel daaglikse brokkies oor die jongste suksestories, gemeenskapsnuus en ryke kultuurerfenis van dié historiese wynlandbestemming.

 

Ander elemente van die projek sluit in verskerpte digitale teenwoordigheid en bewusmaking regoor al die verskillende sosiale netwerke, en ‘n innoverende wyntoerisme blogger-veldtog met top internasionale en plaaslike reis-, leefstyl, en kos-bloggers gedurende April en September.

 

Die Stellenbosch Wynroetes staan vandag meer as 150 wynlede sterk en sluit in ‘n reënboog van unieke aanloklikhede wat wissel van fynproewer restaurante en kontrei-lekker geregte tot ‘n jolige koffie-kultuur sowel as voortreflike hotelle en gastehuise, wat almal in en om die kunssinnige Stellenbosch geverf lê. Met sy witkalkmuur Anglikaanse kerke, museums, rykdom Kaaps-Hollandse huise asook universiteitsgeboue wat uit die 19de eeu dateer, is die Eikestad ‘n toonbeeld van geskiedkundige erfenis en goeie smaak.

 

Vir meer inligting oor die Stellenbosch Ervaring veldtog besoek die nuwe blog http://blog.wineroute.co.za/, of skakel Mariette du Toit-Helmbold by experience@wineroute.co.za of 083 225 5955.